Selfisolasie

Na die president se afkondiging sondagaand gaan ek nie jok nie, het ek begin paniekbevange voel. As ‘n mens wat hou van beheer, het ek besef hierdie is totaal buite my beheer, mens kan beplan soveel soos jy wil, jy kan nie beplan om nie die virus te kry nie, al wat jy wel kan beheer is hoe jy dit hanteer. Hoe jy jouself gedra en gesond hou.

My man is ‘n logiese mens, en raak nie sommer paniekerig nie, maar ek kon sien hy is ook bekommerd. Ek het met kundiges gepraat (geleerde mense in die veld) in ons familie en gehoor van die gevare en besluit, dis dit, ons gaan onsself onttrek van die samelewing vir eers. Ek het die grappies en memes gelees en ook die daaglikse updates dopgehou. Hierdie is nie ‘n lagwekkende situasie nie, wanneer daar huidiglik oor die 14 000 sterftes in die wereld is aan een algemene oordraagbare siekte dink ek moet mens stop, tot verhaal kom, en besef dat daar ‘n groot situasie op hande is. Ja en mens kan obsessief oor die situasie raak net soos jy dit kan afmaak as niks. So watter kant van die weegskaal hang die swaarste? Wat is die middel in ‘n onmoontlike situasie wat kan uitkolk in soveel verskillende rigtings?

Dis nou dag 4 van ons eerste week, ons het opgestock, met genoeg vir ons vir tenminste ‘n maand of dalk 2, en nee ek het nie die winkels leeg gekoop nie, ek het net gesorg dat my gesin genoeg het om te eet sonder dat ons nodig het om elke dag in die winkels te wees. Ek het kuier afsprake gekanseleer en die kinders weg van ander kinders gehou. Ons het gister heeldag ‘n monopoly dag gehad. Ons het so gelag vir mekaar en dit was baie meer pret as om in ‘n winkelsentrum rond te dwaal. Vandag gaan ons yoga en mediteer. So sal ek hierdie situasie waarmee ons huidiglik sit beheer, snaaks dat ek net 2 weke terug in my blog geskryf het oor hoe besig ons geword het dat ons nie meer tyd het vir mekaar nie (sien Tik Tok), en hier wys die natuur jou, dat as hy besluit dis nou genoeg dan is dit genoeg.

Ek het al ‘n paar keer met my sus in Kanada kon gesels, en familie van ver. Ek het die dikste boek in my boekrak gaan uithaal, ek vra vandag almal wat kan, STOP, hou jou kinders uit die strate uit, hou hulle weg van ander mense en kinders af, eet gesond. Haal asem. Dink aan jou familie en vriende en vermy eerder kontak.

Tot ons weer gesels, wees veilig, wees slim. Bly tuis.

 

Leave a comment