Re-Kombuistaal

Ek het my vanoggend weer verlustig in hierdie stukkie wat ek nou ‘n jaar terug geskryf het, en net weereens besef hoe pragtig die afrikaanse taal is. Dit rol so geliefd van mens se tong af, en die lekkerste is die onthou wat saam met dit gepaartgaan. Die dae van jou kindsbeen. Hoop julle geniet hierdie stukkie so saam met my:

Kombuistaal

Net ‘n mondjievol was my ouma se gunsteling sêding. Ek soek net ‘n mondjievol asb. Dit laat my terug dink aan warm wintersdae in my ouma se kombuis, waar sy beslis nie net vir ons ‘n mondjievol kos gemaak het nie, maar massas. Geen wonder Afrikaans staan bekend as die kombuistaal nie, want dis tog maar waar ons die lekkerste kon kuier. Om die tafel. Om die tafel is daar planne gemaak, gedroom, geeet en gehoop. Daar was familietyd, lagtyd en geselstyd en soms was dit ook maar bakleityd, soos dit elke hegte familie behaag. So is die lekker van herrineringe, dis daai lekker warm gevoel onder jou hart wat jou laat terug verlang na ouma en oupa en hulle menswees. Na die sweetwarm dae op die plaas waar jou voete gebrand het op die rooiwarmstofpad, waar jy sommer so begin dans het net om jou voete nie op een plek te lank te laat staan nie. Waar jou voete later kliphard en vuil geword het, maar jou hart oorgeloop het van die wonder en speel. Tot jy later doodmoeg na badtyd in droomland gaan speel het.

Daar is altyd sulke stukkies van my verlede wat kom kuier so nou en dan, soos die middae onder die groot akkerboom terwyl ek vir my ma gewag het na klavierles, ek onthou die vrede, die stilte van die pastorie tuin, die gevoel van absolute vryheid. Terwyl die sproeier die gras ritmies natgespuit het. Die gevoel dat ek myself weer verryk het om nog ‘n les agter my te kon sit.

Middae na skool in graad een toe ons saam met my niggies kon speel. Ons gesmul het aan sout en asyn skyfies broodjies, en daai sappies wat gelyk het soos vrugte maar jou keel laat toetrek het van al die perserveermiddels. Die dae van kindwees. Van eenvoud. Sorgloos.

Kombuistaal is daai broodjie met botter en konfyt na ete, dis kaiings en pap en melkkos. Koeksusters en soetkoekies met koffie. Dis die lekkerste lekker van onthou.

Dis die gesels en lag van vriendskap, hegte egte vriendskap, wat jou laat voel jy is tuis, dat jy mag skoene uitskop en net jouself wees, kan lag en huil en met ‘n oorvol hart wegstap. Dis kombuistaal.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s