Tags

Eens op ‘n tyd het ontdekingsreisigers op hulle skepe geklim en die hele wêreld verken. Hulle het moed bymekaar geskraap en gehoop dat in die tog om hulle plek te vind hulle nie van die aarde sal afval nie, of deur die groot seemonster opgevreet word nie. So het ons voorvaders hul tuistes gevind, en ons beland waar ons gebore word.

Mens word deel van jou land en sy mense, hulle is in jou bloed, jou kultuur is in jou. Daarom is dit vir ons so moeilik om weer wortels op te tel en iewers anders te gaan inskiet. Maar deesdae is dit die norm, ons almal het familie en vriende wat oorsee bly. Wat die land van melk en heuning gaan soek het op ‘n ander kontinent. Suid-Afrika is nie vir sussies nie, dis ‘n daaglikse stryd, die reenboog nasie het meer as sy normale probleme. Maar dit is ‘n post vir ‘n ander dag, politiek is ‘n eindelose put waarin ek nie betrokke wil raak nie.

My enigste sus en haar man bly al vir die afgelope 7 jaar in Kanada, ek het al daar gaan kuier dis ‘n ongelooflike plek om jou kinders groot te maak. Maar soos alle immigrante vir jou kan vertel elke land het sy goed en ook sy sleg. In Kanada is een van die groot Challenges die weer. Maar vir jou vryheid is dit ‘n klein prys om te betaal dink ek. Ek lees nou die dag ‘n stukkie van ‘n oomie op ‘n klein dorpie wat se kinders oorsee bly en dat dit sy kleinseun se verjaarsdag was en hy hom in engels probeer gelukwens (‘n kleinkind wat hy nog nooit eers self vasgehou het nie) en dit het my net weer laat dink hoe baie mense in ons land al sulke kleinkinders oorsee het, wat hulle nie mee kontak het nie, hoe hartseer. Ons is gelukkig om my sus en haar gesin tenminste eenkeer per jaar te sien, want finansieel is dit moontlik. Maar vir baie is dit nie.

Die dat jou hartsmense so ver is, mis mens so baie. Mens mis verjaarsdae, Kersfese, etes en vakansies saam. Genadiglik het ons deesdae sosiale media wat die gaping oorbrug, want ek kan myself nie eers indink hoe dit moes wees as ek net ‘n ou telefoon moes gehad het wat jy net kan bel as iemand by die huis is nie, ons sou nooit kontak gehad het nie, want daar is ‘n 6 uur tydverskil. Naderhand is jy gewoond aan die “mis” dit raak dof in jou agterkop, en jy skuif dit opsy. Jy bel met verjaarsdae en stuur boodskappe en gesels gereeld op whatsapp en sien uit na die volgende keer se kuier. Maar die verlange word soms erg real. My sus verwag ‘n baba, ons is so opgewonde want nuwe baba en ousus verskril 7 jaar. Die maande stap aan en ek het tenminste my sus eenkeer in haar swangerskap gesien, en kon so bietjie oor die babamagie vryf maar die kuiers is altyd te kort en tyd gaan te vinnig verby en voor jy jou oë uitvee is hulle alweer weg en die kuier verby.

Dis die dag van haar babatee, en ek onthou die dag met die ousus se babatee het ek met alles gehelp en was super opgewonde om die dag spesiaal vir my sus te maak. Maar vandag kan ek nie daar wees nie, my sus is oorgelaat aan haar kanadese familie om dit spesiaal te maak, en my hande is afgekap, ek kan net gelukwense stuur en hoop die dag is extra spesiaal vir hulle…………….. Die engeltjie word gebore, sy is perfek en so soet, ek sien die fotos en ek hoor van die geboorte, en in my hart huil ek van vreugde en seer want ek weet nie eers wanneer ek die eerste keer die lyfie gaan kan vashou nie.
Want ek het familie oorsee.

Met liefde geskryf vir my familie oorsee, verlang elke dag na julle.IMG_6306

Advertisements