Wolf wolf hoe skerp is jou tande?

Was jy al ooit so gestress dat jy voel jy wil begin hardloop? Nie eers seker waarheen of hoekom nie, jy het net hierdie oorweldigende gevoel wat vir jou sê jy moet vlug. Jy moet wegkom. Maar jy het nerens om heen te vlug nie, jy wil weghardloop van jouself af. En mens kan nie vlug van jouself af nie. Hierdie jaar was tuff, dit was erger as tuff dit was sommer net torture! Finansieel, emosioneel op elke vlak moontlik. Omdat Suid-Afrika tans in ‘n verknorsing is, verloor baie mense hulle werk, en verlede jaar het dit ons ook oorgekom, my man wat ‘n hoog gekwalifiseerde profesionele persoon is in sy 40’s het verlede jaar ook deurgeloop. Dit was/is devastating. Ons het twee kinders en ‘n huis om te onderhou. Wat nou gemaak. Hoe begin mens weer van vooraf. Sommige dae het dit baie aanloklik gelyk om sandale te gaan maak op ‘n strand iewers. Maar nou ja, die kinders moet skooltoe gaan, sodat ons vir hulle ‘n goeie toekoms kan verseker.

So sit ons in sak en as. Probeer die stukkies van ons vorige lewe vasplak. Sommige dae is makliker as ander. Omdat dit amper onmoontlik is om weer werk te vind as mens van ‘n sekere status is het ons besluit om ons eie besigheid te begin. Maar soos almal wat hulle eie besighede het weet die eerste jaar is tuff, en met geen backup van banke of finansiele instansies is dit soms regtig moeilik. Vir die afgelope jaar het ons baie gestoei, baklei, moed ingepraat, stilgebly en probeer verstaan, want soos enige goeie huwelik betaam is daai sewe sakke sout soms veertien. Maar eet moet jy eet en aanhou tot dit klaar is. Want ons is nie moed opgeers nie. Sommige oggende het ons met rooi oë wakker geword so moeg van die min slaap en planne beraam dat jou kop voel asof dit gevul is met watte balletjies. Dis nou al ‘n jaar later en ons is darem nogsteeds hier, ons leef vir nog ‘n dag. Die son skyn en daar is ‘n goue randjie om hierdie donker wolk, dalk volgende maand sal ons weer kan asemhaal.

Wolf wolf hoe laat is dit?

Krummeltjie vir krummeltjie is ek oppad na Hansie en Grietjie se huisie
‘n donker voetpaadjie dieper en dieper in die bos
Leë groengrys oë staar niks sienend
Om elke hoek tjank die honger wolf

Kan ek die krummeltjies weer optel en probeer vasplak om die brood weer heel te kry?
Vorentoe,agtertoe hier nee daar,
Ek hardloop en hardloop,
Tot my asem op is en my kop leeg
Maar nogsteeds lek die wolf aan my hakskene
Sal daar aan die einde ń heks of feeprinses wag.
Mens kan nie weghardloop vir die wolf in jouself nie.
Mens kan nie weghardloop vir die klop van jou hart of die asem in jou longe nie.
Jy kan ń rooi jassie aantrek en maak jy is ok en die wereld is reg.
Maar jy bly die ouma in die bed met die leë oë en skerp tande.

Mag almal wat deur dieselfde as ons gaan weet dat julle is nie alleen nie, ons verstaan. Hou moed.
IMG_9780

7 thoughts on “Wolf wolf hoe skerp is jou tande?

  1. Ek lees wat jy sê en verstaan ook wat jy sê. My lewe het ook al draaie geloop. OP die einde kan ek steeds eet en ek is nog gesond. Dit is bitter swaar vir die broodwinner as hy of sy afgedank word. Dis goed om te hoor jul gaan nie lê nie. Terwille van die kinders doen mens alles wat moontlik is. Ek hou van jou gedig. Mooi geskryf, diep uit die hart. Dankie dat jy my ontdek het. Jy kan gerus as jy so voel saamskryf. Dit gaan oor Afrikaans en die lekker taal wat ons praat. Sterkte vir julle is al wat ek kan sê.

  2. Ook ek het programme ontwikkel, maar weens mediese redes op 37 my werk verloor, toe my klaar betaalde motors, erfgoed, huis, alles.

    Mense het ons geestelike seën gesien en gedink ons het geld. As ons dan nie kon uitdeel nie, is ons regtig sleg behandel. Vroue by die laaste 28 kerke was liederlik met die engel waarmee ek getroud is.

    My kinders se lewe is by hulle gesteel. Familie het lelike dinge gesê en gedoen. Skielik was ons nie juis welkom nie, nie eens in kerke nie. Tussen dieselfde Christene wat agteroor buig om ander te help op ver plekke.

    Die Bybel word nie gehoorsaam nie. Sterkte vir julle, ek word hartseer as ek jou verhaal lees. My vrou het laasjaar meer as agtduisend kilometer geloop, ek sukkel voort met ‘n kierie na my eie twaalfde beroerte.

    Jip. Maar die Here help ons elke dag om ons enigste beskikbare verblyf betaal te kry. En ietsie om te eet.

  3. Ons is in Jaar 21. Julle is oorwinnaars. Mens kom hierdeur. Niemand het gesê die lewe is maklik of regverdig nie.

Leave a comment