Vir die eerste keer in maande is daar totale stilte, albei my kuikens is weer terug by die skool vandag, en ek lê al wakker van 4 uur af en bekommer daaroor. Die land, die wereld en alles wat ons ken staan op sy kop, en ons moet nou gemaklik voel om daarmee te leef so onderstebo.
Vrydag was my breekpunt. My angs en depressie vlakke skiet weer die hoogtes in, want sommige dae is regtig baie moeiliker as ander. Wanneer ek so erg in my gat wegval raak ek moeilik en onhanteerbaar, vir ‘n huwelik in hierdie tye is dit sink of swem. Elkeen sukkel om sy eie wa deur die drif te probeer trek, en kan nie nog iemand anders sin ook agterna sleep nie. Ek verstaan en weet dit, maar my rots en anker raak ook soms moeg. Dan raak ek bang en onseker.
Depressie is ‘n selfsugtige siekte, dit raak so donker in jou gat dat jy nie ander mense om jou meer raak sien nie, jou pyn is die enigste ding wat jy raaksien. Mens word kwaad en voel magteloos, ek was nog nooit bang of skaam om oor my depressie te praat nie, want as ek vandag jou stem kan wees, in die wereld van onsekerheid dan sal ek, jy het die reg om te voel soos jy voel. Maar onthou om te baklei, dit voel dalk vandag asof alles te veel is, asof die lewe te erg druk, maar hou moed. Kyk om jou en sien iets wat vir jou die moeite werd is om voor te baklei.
Jou kinders, jou man, jou liefde, jou ouers, vriende, jou diere of plante of watookal, daar is altyd iets om voor te leef.
Ek sien uit om hierdie week ‘n beter begin te kan hê, om myself weer positief te probeer kry sodat ons die volgende paar dae weer in die oë kan kyk. As jy ook voel soos ek, stuur vir my ‘n boodskap want 2 is beter as 1 dan baklei ons deur hierdie donker dae saam.
Ek probeer niemand affronteer of onsensitief wees nie, maar die ongerief van inperking is vir baie van ons in die regte lewe daar buite ‘n klein veranderinkie in elke dag se onmoontlike eise. As mense jare lank aankom met halfkruppel lywe, ongeskiktheid, as onverbonde en dus nie-ondersteunde sendeling wat die evangelie uitdra waar die kerk se straatwerkers te bang is om in te gaan, en jy boonop uit NIKS iets probeer maak en dan kom loadshedding en vat jou besigheid af, of ‘n agentskap in Singapoer rol om en gaan dood met jou enigste soort van inkomste, dan is hierdie krimpvarkievirus maar net nog ‘n voortsetting van bestaande ongeriewe. Niks nuuts nie, behalwe dat jy nie die pragtige see sien 293 meter van jou woonstel af nie. Depressie het soms te make met ongediagnoseerde diabetes en ‘n prikkie op die vinger is nie die toets nie. Ongewenste aanwas om die midderig sonder rede, is ‘n beter aanduiding, of om die bobene dalk.
In my ervaring was die enkele kere dat ek wel depressief was, wanneer ek met iets in my lewe buite God se pasmaakplan vir my was. As ek dan die fout gaan opspoor het met Sy hulp, is dit gou reggestel en depressie is vergete.
Gewoonlik wanneer ‘n mens ‘n pos begin soos joune, dan trap jy beslis op tone, en ek is nie ‘n sneeuvlokkie nie, is al telke male om die blok. Ek wil niemand affronteer of onsensitief wees nie, maar as jou lewe skaars verander het in die tyd, is daar fout. My depressie het niks te make met diabetes of vetsig om enige gedeelte van my lyf nie, en my nommer 6 denim sal daarvan getuig. Na ek my 10km drafsessie 3 maal weekliks voltooi het. Die tipe depressie wat gediagnoseer word deur geleerde mense wat spesialiseer in dié, kan mens nie weg bid nie, en ek voel as jy dit nog nooit self oorgekom het nie, dan het jy geensins ‘n reg tot ‘n opinie daaroor nie.
Die geleerde mense het my rug tydens ‘n operasie só opgeneuk dat ek vir 22 jaar baie dae in ‘n bed moes lê en staar na die plafon. Dis nadat hulle dit eers met Librax en Avofortan wou regdokter. Totdat die betroubare een my sien en my summier laat opneem.
Die span by die hospitaal het my na die operasie met swaar dosisse amitryptilene behandel vir pyn. Dit het my gemoed onderdruk en toe kom daar Nuzak by. En die twee mag nie saam nie. Meer as 35 het vir meer as soveel jaar depressie behandel wat deur hulle pille veroorsaak is.
Soos een uit elke twee diabete, is my siekte nie raakgesien nie totdat ‘n radioloog uit ‘n ver plek ‘n vriend word. Hy het die tekens gesien en my aangeraai om getoets te word.
Eendag vra ‘n professor my of ek haar mediese studente te woord kan staan, een vir een. Agterna vra ek haar of sy weet dat haar nuwe dokters beter opgelei word. Dis toe dat sy sê dit was juis ‘n toets om te sien hoeveel op die oog af tekens van diabetes kon sien.
Ek ken sportman-diabete wat fiks en lekker maer is, soos ek voorheen was.
Depressie word soveel keer geïnduseer deur iets in ons omgewing en kom selde van binne. As die geleerdes dit kan kweek in ‘n Petri-dish en onder die mikroskoop kan sien, sal ek meer oortuig wees.
Tans het ek ervaring van iemand wat haarself voer met elke negatiewe ding, van Rammstein en Slipknot tot bloedige moordstories, baie grafies. Dit lees wrede boeke, speel met die okkulte, doen negatiewe goed en uiteindelik sluk sy happy pilletjies daarvoor.
Ek insinueer geensins dis jy nie, maar ek sien hoe die geleerdes nie die oorsaak raaksien nie en die gedrag met lithium wil regdokter. Mens moet oorsake vind en dit regstel en nie simptome nie. Want die onderliggende probleem kan dan ‘n neurose raak, aldus die geleerde Dr M. Scott Peck.
Ek stem saam met jou, daar is altyd onderliggende oorsake vir elke probleem, fisies, sielkundig ens. Maar soms in die hitte van die oomblik staar mens jouself net vas teen die berg wat onmoontlik voorkom. Sterkte vir jou in die omwenteling van die aarde wat ons elke dag moet aanvaar as die normaal.
In my geval affekteer stupid goed soos fyn wit meel my gemoed en vermy ek dit, so ver die ekonomie my toelaat.
Jy is nie alleen hierin nie, baie van wat jy sê resoneer met my.
Depressielyers wil nie eintlik hoor hulle is iemand anders se rots of so iets nie, maar ek sê dit anyway want liewer nou as nooit. Dis net handgekose siele wat slegte goed oorkom, soos depressie en abuse en so aan. Ek sal nog skryf en motiveer wat ek sê as ek moet, maar vir nou is dit al. Jy’s n voorbeeld vir vele, jy hef op en jy beïnvloed ander positief, dis n talent, gegewe van Bo
Dankie my liewe Marinda, jy sal weet dis nie altyd ‘n maklike taak nie, maar iemand moet dit doen. Dis lekker om te weet ek is nie alleen nie.
Sterkte aan jou ook. Ons is sterk as ons hande vat. xxx