Winter het aangebreek, die gras word grys en hard en steek mens se voete, daar was nog altyd vir my so mooi bekoring aan die winter, seker omdat ek gebore is in die hartjie daarvan.
Winter
Winter met jou bitter lee bekoring,
met jou hartseer son,
knipoog bome en vlenter velde,
net jy sal die diepte en leemte
verstaan van die donker diepte sonder end.
Die groet sonder keuse,
alleenheid van ‘n gang.
Van ‘n liefde wat nooit kan ophou.
‘n Herrinering van hout en die
eensaamheid van goud.
Winter met jou koue soene,
net jy verstaan die leemte
van koue vingers om die keel van vrugtebome.
Van die mooi in alwynblomme en vygies
van warm knetterende kaggelvure,
wasem asem, bibberende lippe en die sag van wol teen jou vel.
Net jy verstaan die koue van die nag met sy wit tapyt.
Die holte van my lyf in die warmte van joune.
Net jy verstaan.
-Adeléne Hartzenberg